Dolphin Paragliding Logo

Book Now - 072 199 0622

Vlerksweef: Gespes vas, vlerk op, ’n draffie... en vlieg!

Vlerksweef: Gespes vas, vlerk op, ’n draffie... en vlieg!

2012-12-01 04:35

Heidi Sonnekus, Die Burger

As mens oor die Kaaimanspas George toe ry, swiep daar dikwels vlerkswewers oor jou kop op pad na die strand by Leentjiesklip. Op ander dae lanseer hulle vanaf Sedgefield – soms tel mens tot 30 kleurryke vlerke in die lug. Die spul het Heidi Sonnekus nuuskierig gemaak, en sy het gaan ondersoek instel.


Die idee dat mens vrywillig teen ’n steil heuwel afhol en jouself die lug inwerp met net ’n lapvlerk om jou bo te hou, het my maag laat draai. Maar ek kon nie teenoor my dogter of gryse moeder erken ek is vrek bang nie!

Toe Deon Borrett, instrukteur en tandem-vlerkswewer, ’n valhelm op my kop plak en sê: “Kom”, kon ek net maar mond toeknyp (sodat ek nie kan gil nie, my kind) en saamwerk.

Die bakbeen-lanseerdraffie met die instrukteur aan jou vasgegespe was toe heel maklik en baie kort.

Deon se rooi-en-grys vlerk wíl vlieg en lig mens oor Sedgefield se boomtoppe en die Swartvlei-meer. Eerste gewaarwording: Dis so stil en rustig. En: Mens voel glad nie onstabiel of selfs ’n bietjie onveilig nie. Deon lewer rustig kommentaar oor wat hy doen en wys landmerke uit.

My hart het stadiger begin klop en ek kon my nou heeltyds bekommer oor ouma Nem (79), wat volgende gelanseer sou word. Sy is maar vyf voet twee duim lank, haar enkels is swak en sy het laas in 1962 gehardloop.

Haar grootste bekommernis voor die tyd was dat stukkies van haar sou af- of uitval tydens die vlug en verlore raak: tande, skoene of bril... Maar toe haar beurt kom, het sy nie ’n oomblik gehuiwer nie.

Lucille en Jörg Bueble het baie mooi na haar gekyk en binne sekondes het ons verby mekaar gesweef. Haar glimlag het van oor tot oor gestrek en sy het nuuskierig rondgekyk.

Vir haar was dit ’n wonderlikheid dat sy haar wêreld op so ’n manier uit die lug kon beskou: Sy het haar as jong bruid in die omgewing kom vestig en het die geografie net padlangs ervaar.

As mens die lanseerdery sit en dophou van die grond af, lyk die landslag nogal moeilik. Die ouens kom sit redelik vinnig op ’n klein stukkie gras tussen hoë bome.

Daar loop mense rond, ander ouens lanseer, daar is karre en soms kinders.

Uit die lug blyk die ervaring aansienlik minder skrikwekkend, miskien omdat Deon jou deurlopend vertel wat jy met jou eie lyf moet doen om uit syne se pad te bly.

Hy beheer die vlerk se spoed sekuur en ons land sag en netjies op ons voete. Hy trek sy vlerk grond toe en help gespes losmaak.

Intussen kom land Jörg met Ouma: Hy weet sy is broos en Lucille staan reg om haar te “vang” en sagkens op die grond neer te sit, plat op haar sitvlak, netjies gekussing in haar stoelharnas.

Sy kon haarself oriënteer voordat hulle haar opgehelp en uitgevra het oor vlugnaarheid (niks!) en aan die elmboog van die lanseerterrein af begelei.

Lucille lag oor ons bekommernis. Jörg vlieg al sewe jaar plaaslik en Deon 17 jaar. Die twee het al die veiligheidskwalifikasies.

Hulle vlerksweef dikwels met oumense, kinders en selfs rolstoel-gebruikers.

“Mens kry net ’n ekstra paar hande vir die lanseer- en landslag,” sê sy. ’n Ander opsie is om van hul driewiel-vlerkswewer gebruik te maak wat met ’n enjin werk en dit moontlik maak om in minimum windtoestande te vlieg.

“Ons bedryf is uiters afhanklik van wind- en weerstoestande,” sê Deon. Hulle werk die hele tyd met die oog en oor op weerberigte van alle soorte, en moet soms verskuif van Sedgefield na Kleinkranz of Wilderness om die beste sweef-omstandighede te verseker.

Vertoef mens ’n wyle daarbo op die bult, vind mens jouself amper in ’n parallelle heelal. Doer onder is die N2 waarop jy gewoonlik rondzoem. Vandag is dit irrelevant want die son bak op jou vel, jy ruik bloekomblare en die wind waai deur jou hare. Om jou is dit hemel-, see- en rivierblou. Vlerkswewers wapper soos helder vlinders om die lanseerbult.

Hou mens die proses dop, besef jy daar is ’n orde en tydsaamheid aan alles wat gebeur: vlerk op die grond, toue reguit, helm op, gespes vas, veiligheidsroetine, vlerk op, draffie... vlieg.

Helpers ontspan en kom gesels met die wagtende passasiers. Deurentyd met die oog in die lug om reg te staan vir die landing – vir die passasier ’n ewigheid of ’n asemteug van 20 minute later.

Die landing: vlerk af, maak seker jou passasier is stewig op sy voete, gespes los, helm af...

Die avontuur eindig gewoonlik met breë glimlagge en opgewonde gebare. ’n Ervaring wat jy in jou hart bewaar om later in jou gedagtes en deur jou foto’s te herleef.



Ouma staan reg: vyf voet twee in haar sokkies en onverskrokke. Lucille en ’n helper staan voor, Jörg is besig met gespes.



Die landing. Jörg het Ouma netjies en sagkens neergesit. Lucille maak seker dat Ouma nie duiselig of vlugsiek is nie voordat sy haar regop help.
Foto’s: Heleen Sonnekus

 

To view the article, click here.

 

 


Trip Advisor

Trip Advisor 2017 - Certificate of Excellence Award

Trip Advisor 2018 - Certificate of Excellence Award

Trip Advisor 2019 - Certificate of Excellence Award

For the last three years we have won a Trip Advisor Certificate of Excellence Award, learn more

Whatsapp